Pinetown

Pinetown

Ons gemeente se leuse is:  “Saam voor God tot lof en diens”. 

Kontakinligting:

  • Leraar: Ds. Theo Human
  • Gemeentebestuurder: Marietjie Marais 
  • Admin: Dina Rossouw
  • Kerkkantoor: tel 031 702 5264, e-pos: ngkpinetown@saol.com

 

‘n Stukkie Geskiedenis

Die NG gemeente Pinetown is op 20 September 1946 gestig.  Dit is die geestelike moedergemeente, waarvan drie gemeentes afgestig is nl  Escombe (1974), Westville (1975) en Krantzkloof (1984). Ons gemeente bestaan tans uit 698 siele. Ds NJS van der Merwe was die eerste leraar van die gemeente en volgens argiefstukke het hy nie ‘n maklike taak in die gemeente gehad nie, want hy moes op ‘n Sondag vyf eredienste waarneem. Hy het soggens begin by Malvern om 09:00,  en daarna Pinetown om 10:15,  Escombe om 11:15,  Hillcrest 15:00 en weer saans om 19:30 by Pinetown. Tot en met ons huidige leraar, ds ML Human was daar 12 leraars wat in Pinetown gemeente diens gedoen het. Vir meer inligting besoek asb die gemeente se eie webwerf: http//www.ngkpinetown.org.

(Marietjie Marais)

Noodleniging tydens Xenofobiese geweld

Dis Donderdag 22 Mei 2008.  ‘n Dringende e-pos word ontvang van die Diakonia Council of Churches.  “Kerke,  help asb met die dringende krisis!   Mense word uit hulle huise gesit en uit hulle gemeenskappe gejaag.  Van hulle het by ons kantore opgedaag.”  Die Xenofobiese geweld het Durban nou ook getref. Die kerkraad se  getuieniskommissie sê: “Ja, ons moet help.”  Die kerkraad sê: “Ja, ons moet help.”  Laat die Sondagmiddag weer ‘n Diakonia kommunikasie:  “Sowat 60 is tans by die Pinetown Methodiste kerk en het dringend kos nodig.”  Een oproep en toe stroom ons lidmate by die kerksaal in.  Kategese onderwysers, Veritas studente en Omgeegroepslede van hulle huise af spring in en binne ‘n uur was daar oorgenoeg  smaaklike warm kos gereed.  Baie warm komberse op die koop toe. 

 

Terwyl die groot kospotte geroer word sê ‘n Engelssprekende Veritas student, skaars herstel na ‘n erstige arbeidsongeluk met twee daaropvolgende beroertes:  “Ds Theo, I am prepared to lead this mininstry.  This is what God wants me to do.  I thought He was calling me for something else, but now I see; this is it.”

 

Met kos en komberse is ons oorkant die straat na ons Methodiste bure.  Daar was hulle in die saal met hul geredde bondeltjies:  Mosambiekers en Zimbabwiërs.  Die situasie deurmekaar, maar die oë flikker oor die kos.  “Nee, hulle sal self opskep maar ons moet eers saam bid.”  En daar staan ons in ‘n reuse kring, hand aan hand met geboë hoofde en dank God.  In Swahili, Engels en in Afrikaans.  Dis toe al dat die trane in die gewers se oë begin biggel het.  Die vrees en onsekerheid en spanning in die ‘gaste’ se oë kon nie misgekyk word nie.

 

Dinsdag, 3 Junie 2008, na ‘n uur kennisgewing, klim 48 verwarde, bang Kongolese met huilende kinders by ons kerkgebou af en betree vir die eerste maal die gronde van ‘n “Boerekerk”.  Die gronde van die NG Gemeente Pinetown.  Soos blesbokke in die hoek van ‘n skietkamp vasgedruk, maal hulle in groepies met hul eie bondeltjies in ‘n hoek in ons kerksaal.  Die 21 kleintjies hang aan die mammas se rokke en kerm.  Grootogig staan die Kongolese in een hoek.  Grootogig staan Afrikaners in ‘n ander hoek.

 

Ons probeer “Sanibonane”.  Dit laat hulle skrik want dit is hierdie taal wat hulle in die middel van die nag uit hul blyplekke in Umbiloweg, Bereaweg en Sherwood weggejaag het.  Hierdie taal wat ander aangespoor het om hulle te vermoor en te beseer.  Swahili, Frans kan ons nie.  Afrikaans beslis nie.  Dus, êrens moes die geradbraakte middelpad van Engels gesoek word.  Dan tree die Here se gawes van Viv en Martie in, loop hulle oor die niemandsland en begin hulle in die universele taal van warme liefde en gasvryheid welkom heet, groet en drukkies uitdeel.

 

Daar was ‘n Amsi Wilondja, ‘n Etulo Mboboci, ‘n Molisho Kisanga, ‘n Grace; ‘n Alice.  Sommige name val maklik op die tong, ander sou skuur daarom heen. 

 

In my gemoed is ‘n stille, diepe dankbaarheid.  “Dankie Heer vir die ‘duiwelsvurk’ heining om die kerk en die CCTV toegangsbeheer.  Die heinings en sekuriteit hou nie net buite nie.  Dit laat ook deur.  Dit beveilig diegene daarbinne.”  Laas jaar moes die heinings dit ook doen met ons gemeenskapskool, Gelofte, se Matriekklas.  In veiligheid on hulle hul Julie 2007 eksamen skryf gedurende die onderwysstakings.  Hoë heinings om ‘n kerkkompleks kan ook die Here se koninkryk dien.

 

Toe gaan die harte en hande van die kerkgemeenskap in Pinetown en omgewing oop. Ook die van organisasies soos die Rooikruis.  Van studente by UKZN.  Tot oorlopens toe.  Hulle gee, gee en gee vir hulle hier!  Een besigheidsman van ons gemeente sê: “Jy vra van my drie dae se kos…ek stuur twee weke s’n.”   Dis die gesindheid waarmee gegee is uit die genade van God. 

 

Telkens weerklink in Kongolese ore:  “Die Here is ook julle Herder.  Kyk, Hy sorg want Hy is lief vir julle.”. 

Dr Andries Boshoff van die Bybelgenootskap bring Franse en Engelse Bybels.  Net een Bybel het die vlugproses uit hul wonings oorleef.  Die blydskap en dankbaarheid oor die Woord in hul moedertaal is aangrypend.

 

Later, nadat dinge in ‘n roetine gekom het, sit hulle in die son, doen mekaar se hare en neurie liedere tot Sy eer onder die asem.  En hulle het niks…maar wat hulle wel het, is hul glimlagte en gedurige woorde van dankbaarheid.  Dit word vryelik uitgedeel.  Vrede heers…vir eers.

 

Toe kom die swart, luukse motor en 4×4’s met blou ligte hulle besoek.  En die vrede is daarmee heen.  Die onsteltenis en opgewerktheid, so tipies van Franssprekendes, wel op:  “Ons praat nie met jou as Viv nie by ons is nie.”  “Ek gaan sit met my kind voor jou bakkie se wiel as protes omdat julle nou al jare lank nie ons wettige papierwerk as vlugtelinge verwerk het nie.”  Mooipraat ontlont genadiglik die situasie. 

 

Daarna het die middele van die staat begin aankom, toilette, storte, kos, komberse, matrasse, welsynsdienste, Binnelandse Sake.  Die SAPD en ons eie beskermingsdiense pas hulle 24/7 op.  Ons plaaslike CMD kom gedurig gesels en ‘n ogie hou om ons te help om probleme te identifiseer.  Ons jeugleiers en jongmense bring tot oorlopens toe speelgoed.  Die belydenisklas hou ‘n speletjiesaand.  ‘n Jongman bring dromme en ‘n dromsirkel, begelei deur viool en perkussie, maak dat die woonsteblok oorkant die straat bietjie onseker oor hul balkonne loer.  Die Alpha Kursusgangers sing vir die besoekers “Laat Heer u sëen op hul daal…” waarop hulle volg met ‘n Swahili seënbede.  Broers en susters in Christus vind mekaar.  ‘n Vredevolle roetine begin te heers vir ‘n week of wat. 

 

Na drie weke begin die kos opraak.  Die plaaslike owerheid se rampbestuur het hul hande vol met ‘n vloedramp suid van Durban.  Ons besoekers se geduld met mekaar is ook aan die opraak.  Om saamgebondel in ‘n saal te wees is nie maklik nie.  Kinders wil weer skool toe gaan.  Verveling begin sy tol eis.  Alhoewel hulle die omgewing binne en buite die saal pynlik netjies hou, voel ons besoekers hulle moet aanbeweeg.

 

‘n Vergadering word belê, met hoog op die agenda die groep se waardering vir die gemeente en kerk wat as God se ambassadeurs so na hulle omsien.  En,  “Jammer ook indien enige ongerief veroorsaak was.”

 

Viv begin rondbel…dinge moet na drie weke darem in ‘n rigting gaan.  Na baie bel hier, daar en orals vir bykans ‘n week, kom die berig:  “Die bus is oppad.  Oor ‘n uur is hy daar!”  Nou nog middagete eet, oppak en spring.  Die aanvanklike onsekerheid word besweer:  “Julle gaan na ‘n skuiling in die stad naby die areas waar julle vroeër gewoon het, sodat julle vandaar af in julle gemeenskappe geïntigreer kan word.”  Hulle is tevrede.  Ek, Viv, Jannie en Koekie huil van dankbaarheid, nie omdat hulle weggaan nie, maar omdat ons met die Here se seën, hierdie hoofstuk van ons betrokkenheid by mekaar so goed en Godverheerlikend kan afsluit. 

 

Weer staan ons in ‘n sirkel en hande vashou en bid soos drie weke vantevore.  Die mooi woorde van afskeid, dank en bemoediging oor en weer, die drukkies klaar, die selfoonnommers uitgeruil, en die bus vertrek.   Met wasige oë en vreemde leë gevoelens in ons binneste waai ons vir hulle ‘totsiens’ op die sypaadjie.  Maar met die woorde van ons Here Jesus weerklinkend in ons gemoedere:  “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen”.

 

Miskien illustreer die volgende verhaaltjie hierdie Goddelike ervaring die beste:  ‘n Zoeloe Munisipaliteitswerker wat vroeër aan die tydelike toilette kom werk het, sien deur die rookwolke heen ons gemeentemanne vleis braai vir ons gaste met rondom hulle die babadoeke uitgehang oor die struike.  Hy sien ‘n werknemer van die Old Mutual kantore langs die kerk wat in haar teetyd met die kindertjies speel, en bely:  “Vroeër het ek gedink Jesus is net ‘n feëverhaal, maar nou het ek Hom hier by julle gesien!”

 

Theo Human

Pinetown